Esther se Getuienis by Esther du Toit - HTML preview

PLEASE NOTE: This is an HTML preview only and some elements such as links or page numbers may be incorrect.
Download the book in PDF, ePub, Kindle for a complete version.

Kos vermeerder op my tafel

Ons was met ‘n uitreiking na die Vrystaat en het tuis gegaan by ‘n boer op sy plaas. Toe ons moet terugkom gee hy ons ‘n boerpampoen, massief groot, een man kon hom nie optel nie. Hy gee ook ander groente. Die groente was net vir een of twee kooksels en toe bly net pampoen oor. Iemand anders skenk ons ook net so groot Boerpampoen. Pampoene kom van ander na ons toe. Ons eet Pampoen koekies, pampoen sop en gebraaide pampoen. Ek vra vir VADER : “ Kan ons nie maar ander groente kry nie?”

Ek sien ‘n visioen waar mense met houers in ‘n lang tou staan. Ek staan voor met ‘n houer en gooi iets (olie?) vir elkeen in sy houer. Die ry mense is so baie die agterste mense lyk klein. Ek vra vir VADER wat wys Hy my? Die skrif kom by my op van die weduwee en haar twee seuns.

2 Konings 4:1-7

VADER sê : “ Solank jy die olie gooi sal dit nooit gaan staan nie.” Dit het my geleer saai.

Lukas 6:38

“Gee en vir jou sal gegee word, ‘n goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is sal hulle in julle skoot gee.”

Ek vra vir VADER, stuur vir my die mense. Hy was so getrou en het mense gestuur, so dra ek pampoen gee sê ek: “VADER, ek vra boontjies of wortels of ander groente.” Toe kom ‘n sak patats. Ons het gelag want dis pampoen en patats. Op ‘n dag stap ‘n man in en bring vyf pakke vleis. Verskillende snitte vleise. Al meer kos het na ons toe gekom. Wanneer ons kruideniersware nodig het, het ons ‘n lys gemaak. Die deurklokkie lui en wanneer ons oopmaak is daar inkopiesakke met alles wat ons nodig het. Die gewer het neergesit en klokkie gelui en ons het nooit geweet wie dit was nie.

Op ‘n stadium het my kleindogter by my gekuier. Sy maak toe ‘n lys van goed wat ons nodig het. Bo aan die lys was foelie geskryf. Die oggend met ons gebruiklike samekoms stap ‘n vrou hier in en sê sy was oppad hierheen toe hoor sy dat sy foelie moet saambring. My kleindogter was so opgewonde sy lag en sê : “OUMA!! JESUS het die heel eerste item op die lys vir ons gestuur.” Dit was ‘n wonderlike getuienis. So het die HERE begin voorsien in al my behoeftes. Aan GOD al die eer, en dank en prys vir alles.

Op ‘n ander geleentheid het ek 6 mense om my tafel gehad. Ons het almal kos in ons borde geskep en begin eet toe ‘n broer met sy 2 seuns hier instap. Daar was net n bietjie kos oor en ek se toe vir die man ek sal brood sny en kyk of ek n blikkie gebakte bone het. Hy begin van die kos in sy bord skep en se SUS!!!! moenie brood sny nie! Die volgende oomblik vermeerder die kos en hy en sy 2 seuns skep kos in hulle borde. Nadat hulle geskep het is daar nog meer oor as wat in die bakke was. Nog ‘n wonderwerk. PRYS ABBA!!!! Aan HOM al die EER!!!

Hartswater - Geloof stap

Om in geloof uit te stap is om onverskrokke te doen wat GOD jou beveel en nie te twyfel dat Hy vir alles sal sorg nie.

Numeri 23:19

“GOD is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie; of spreek en dit nie waarmaak nie?”

Matteus 6:25

“Daarom sê Ek vir julle : Moenie julle kwel oor jul lewe – wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul ligaam – wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die ligaam as die klere nie?”

Ek het ‘n droom gehad dat ek met ‘n kwart tenk petrol na Hartswater vertrek. Ek bid en vra VADER wat sê Hy vir my deur die droom? Hy sê: “Pak jou tas en gaan.” Ek pak my tas en kry alles gereed vir die reis. Wat sou ek sien? Die tenk wys net kwart met petrol!!! Ek laai my tas in die motor en hoor die huis foon lui. Toe ek antwoord sê ‘n vrou sy moes al die oggend vir my geld gebring het. “Kan ek dit asseblief by haar kom haal?” Ek sê goed ek kom. Die geld was vir petrol maar nie vir kos of verblyf nie. Ek ry tot in Stilfontein en vra slaap plek by my vriendin se suster, maar haar gastehuis is vol bespreek. Sy stuur my na iemand anders. Die vrou sê ek kan daar slaap, hoef nie dadelik te betaal nie. Toe ek die aand kamer toe gaan om te gaan slaap, kom die gasvrou na my en  sê : “ Die HERE sê ek mag jou nie laat betaal vir die verblyf nie.” Ek loof en prys ABBA want ek het net ‘n paar rand in my beursie.

Oppad na Hartswater begin die stuurwiel erg te ruk. Ek is ver van Hartswater en sê : “ JESUS, nou wat nou?” Die pad is stil en ek bid maar net. My selfoon lui en ‘n broer in JESUS vra my hoe dit gaan. Hy het net gevoel hy moet my bel. Hy bid saam met my en sê ek moet maar net stadig ry.

Ek ry Hartswater in en hou by ‘n motorhawe stil. Vertel vir hulle wat gebeur het, en die eienaar van die motorhawe kom klim agter die stuurwiel in en ons ry. Hy vra my vrae en ek antwoord ek doen sending werk. Hy weet nie wat is fout nie en ons ry terug. Hulle sit die motor op die hyser en kyk of hulle die fout kan kry. ‘n Jong man sê skielik : “ Hier is die fout!!!” Die band is deurgeloop en het ‘n bal uitgestoot. Toe sien hulle altwee voorbande is glad afgeloop en die draad kom al deur. Die eienaar sê vir my dat ek twee nuwe voorbande kort. Ek sê vir hom dat dit sal moet wag want ek het nie nou geld nie. Hy sê vir my : “Tannie, jy kan nie so ry nie. As die band bars kan jy ‘n ongeluk maak.” Hy skree vir die werker: “Bring twee bande!” Ek sê dat hy moet wag ek sal gou kyk of daar geld in my bankrekening gekom het en stap oor die straat. Daar was niks!!! Ai tog. Ek loop terug en ek sê : “Goed sit dit maar op rekening, ek is ‘n paar dae hier, ek sal kom betaal. Intussen terwyl ek wag vir die motor, gesels ek met die werkers. Die motor is klaar en ek klim in om te ry. Het mooi dankie gesê en gegroet. Toe ek agter uit wil ry kom die eienaar aan gehardloop en gee my ‘n lang koevert. Hy sê : “ Tannie, gaan doen die werk van die HERE vir my part ook. Ek is in ‘n voltydse beroep, ek kan nie.” Ek sê toe goed, en baie dankie vir die rekening. Ek het gedink dis in die koevert. Ek hou onder ‘n boom stil om te bid en dankie te sê vir die bande en ook dat ek nou blyplek sal vind. Ek vat die koevert wat op my skoot lê en voel dis swaar. Toe ek dit oopskeur is daar note en silver, tot sente in. Hy moes die kleinkas se geld net so in die koevert gegooi het. Ek seën hom en dank VADER vir die voorsiening. Nou kan ek slaap plek soek!!!

Die motorbande en kontant is aan my geskenk deur die eienaar van Nics Motors Hartswater.

Dit was ‘n geseënde week in Hartswater. Nuwe siele het tot redding gekom, genesings het plaasgevind en ook mense is gedoop. Ek gee ons GOD en VADER al die eer.